Dr Marlet Tromp

Stil die kritikus binne jou

Deur Machelene Joubert 

As die stemmetjie sê: Geluk is nie vir jou beskore nie
Sê vir die stemmetjie: Elke mens verdien geluk, ek ook

Zane Green, ’n lewenstylgids, sê dat jou innerlike kritikus jou daarvan kan weerhou om volkome gelukkig en vervuld te wees.

  1. Gee jou binneste kritikus ’n naam. Dit sal jou help om aan die stem as ’n aparte persoon te dink. Sodoende sal jy minder identifiseer met wat ‘sy’ (of hy) vir jou mag ‘sê’.
  2. Laat jouself toe om die emosie te ervaar. Wanneer jy jou gevoelens onderdruk of weerstaan, word dit net al hoe sterker. Gaan dan na ’n veilige plek, haal diep en stadig asem en gun jouself eie geleentheid om die emosie te beleef.
  3. Die goeie nuus is dat jy die skrywer van jou eie ‘skrip’ – oftewel gedagtes – is. Jy kan kies wat jy omtrent jouself wil sê en glo. Jy het die outoriteit om die gevoel van: ek voel nie goed genoeg nie, te vervang met: ek kies om goed genoeg te voel. Of ek kies om myself te aanvaar net soos ek is.

 

As die stemmetjie sê: Jy is nie goed genoeg nie
Sê vir die stemmetjie: God maak nie gemors nie

Dr. Roelf Opperman, ’n familieterapeut, lewenstylgids en leraar, vertel dat elke mens ’n beeld van hom/haarself het wat van kleintyd af deur die gesagsfigure in sy/haar lewe gevorm is.

“Hierdie beeld maak dat jy voel jy is niks werd of dat dit jou skuld is as dinge verkeerd gaan. Soms maak dit dat jy bang is om op te tree. Gelukkig hoef jy nie aan dié beeld wat jy van jouself het, uitgelewer te wees nie. Jy kan nuut oor jouself begin dink. Dit gebeur wanneer jy met jouself begin praat en jouself met positiewe gedagtes voer.”

“Vertel vir jouself dat God jou liefhet en dat Hy nie gemors maak nie. Vertel vir jouself dat jy baie waardevol vir Hom is en dat Hy jou liefhet. Die interessante is dat jy dit aanvanklik nie hoef te glo nie. Namate jy hierdie positiewe gedagtes herhaal, word daar nuwe bane in jou brein geskep en vorm dit later ’n nuwe manier van dink oor jouself.”

 

As die stemmetjie sê: Jy is deurspek met foute
Sê vir die stemmetjie: Ek neem nie eienaarskap nie

Marlet Tromp, ’n besigheid- en lewenstylgids, maan mense om te leer onderskei tussen destruktiewe (afbrekende) en konstruktiewe (opbouende) kritiek.

Sy sê wanneer jy destruktiewe kritiek hoor, moet jy ’n pertinente besluit neem om nie eienaarskap daarvan te neem nie. Dit is ook belangrik om dit nie net te dink nie, maar dit hardop vir jouself te sê: ek neem nie eienaarskap van dié stelling nie; ek is nie oorgewig nie.

“As ons egter konstruktiewe kritiek vir onsself gee of van ander ontvang, beskou dit as ’n geleentheid om te groei. Byvoorbeeld: indien ek nie 5kg gaan verloor nie, kan dit ’n negatiewe effek op my gesondheid hê. Dié stelling is gemik om op te bou.”

As die stemmetjie sê: Jy sal nooit suksesvol wees nie
Sê vir die stemmetjie: Ek gaan jou nie vatplek gee nie

Jou innerlike kritikus groei as jy dit voer, waarsku Leonie Prinsloo, ’n lewenstylgids.

“Die meeste van ons het grootgeword  met die nederige (dalk eg Afrikaanse) houding dat jy nie grootpraterig mag wees nie. Tog is daar ’n verskil om iets met sekerheid en selfvertroue te sê en om te brag of groot te praat.”

Wenk: “Woorde is nie net iets wat ons gedurig hoor of sê nie, daar is krag in woorde. Vervang daarom negatiewe woorde en gedagtes met positiewe woorde en gedagtes. Jy is die argitek van jou woorde en gedagtes. Neem outoriteit oor jou lewe.”